Friedel en ander frappanthede

  • OpenID login failed.
  • OpenID login failed.
Syndicate content
URL: http://www.translate.org.za/blogs/friedel
Updated: 3 hours 16 min ago

Emosies en lokalisering

Sat, 19/06/2010 - 09:37

Ek moes onlangs 'n effens moeiliker stuk vertaalwerk doen vir Pidgin. Deel daarvan was 'n uitbreiding vir die XMPP-protokol om emosies te standaardiseer. Met dié uitbreiding kan verskillende geselsprogramme inligting uitruil oor die gebruiker se gemoedstoestand op 'n standaardmanier. Maar die teks wat vir die gebruiker gewys word, moet natuurlik vertaal word, en dit is toe glad nie so maklik nie.

Daar is meer as 80 emosies wat in die spesifikasie beskryf word en dit sluit ook 'n paar fisiese toestande in (soos "koud" en "siek"). Ek val toe weg om te vertaal, maar besef vinnig dat hierdie nie so maklik is nie. Eerstens ken ek nie die nuanses van al die Engelse terme goed genoeg nie, maar natuurlik raadpleeg ek toe maar net woordeboeke. Kort voor lank is daar egter terme met veelvuldige vertalings, waarvan sommige van die vertalings oorvleuel met die vertaling van ander terme. Sommige van die terme waarmee ek toe nou sukkel:

  • Amazed, In awe
  • Thankful, Grateful
  • Amorous, In love, Aroused
  • Dismayed, Dejected
  • Contented, Satisfied
  • Humbled: Dit is dubbelsinnig. Dit kan vernederd of nederig beteken — nogal 'n groot verskil. Die betekenis word in die spesifikasie gegee, maar hoe gaan gebruikers weet watter betekenis hier bedoel word?
  • Lucky en Happy: Hierdies vertaal ongelukkig altwee na "Gelukkig" en onderskeid word gewoonlik uit konteks afgelei. Hier sal waarskynlik geen konteks wees waar hierdie vertalings gebruik word nie; dalk net 'n lys emosies om uit te kies.

Die doel is natuurlik nie net om sommer net 'n vertaling te kry nie, maar iets wat akkuraat is, onderskeibaar is van die ander, en wat die regte boodskap gaan oordra aan die persoon met wie mens gesels — wat baie moontlik 'n ander geselsprogram gebruik, dalk selfs in 'n ander taal. Dit help nie as twee terme op die selfde manier vertaal is en mens sien iets soos "Gelukkig" twee keer in die lys nie.

Alhoewel dit in die spesifikasie die idee gee dat die lys emosies gebaseer is op 'n klomp goeie navorsing oor emosies (insluitend oor kultuurgrense heen), wonder ek hoe nuttig hierdie lys is terwyl dit terme het wat so naby aan mekaar is. Alhoewel sommige van die vangplekke spesifiek met Afrikaans te doen het, lyk dit of daar tog 'n paar terme hier is wat verwarring vir vertalers kan skep, en boonop nog vir gebruikers ook.

Later in die selfde lêer kom ek toe 'n klomp goeters teë uit die OSCAR-protocol (gebruik in ICQ en AIM) waarmee gebruikers kan aandui waarmee hulle besig is. Daar is toe hierdie drie vertalings: Surfing, Searching the web, Browsing the web — frustrasie. Dan is daar ook 'n paar wat ek nie in sou belangstel om te weet dat iemand daarmee besig is nie. 'n Paar hiervan het toe ook nie my aandag gekry nie.

Lesse hieruit
  • Internasionalisering is moeilik as dit met emosies te make het.
  • Programmeerders moet kommentaar gee om dinge so goed as moontlik te verduidelik aan vertalers.
  • Dié kommentaar moet in die vertaallêer wees. Die skakel na die spesifikasie is eers later op die poslys met vertalers gedeel. Mense wat Pidgin in die toekoms vertaal gaan dit mis.
  • Goeie woordeboeke is fantasties. Dié werk sou aansienlik langer geneem het as ek nie goeie vertrekpunte telkens in die woordeboeke kon kry nie.
  • Dit het baie gehelp om 'n tweede opinie te vra.
  • Dié woorde kan nie goedsmoeds in 'n sin ingevoeg word nie. Mens kry warm, maar voel hartseer. Daar is dalk nog meer redes in ander tale om nooit te probeer om hierdies in 'n sin in te prop nie.
Categories:

Vertaling komende Saterdag

Tue, 25/05/2010 - 23:01

Ek is deur 'n paar vriende oortuig om 'n geleentheid te reël om 'n paar mense bymekaar te kry om bietjie te vertaal. Dwayne is so gaaf om die Translate.org.za-kantoor aan te bied vir die geleentheid.

Dis sommer 'n geleentheid vir diegene wat belangstel in Afrikaanse lokalisering vir bietjie touwys maak, bietjie kuier, bietjie vertaal, bietjie inspireer, ens. As iemand belangstel om by ons aan te sluit, moet hulle my so gou as moontlik laat weet, ter wille van die reëlings en koördinasie.

Plek

Translate.org.za se kantoor in Groenkloof, Pretoria. Daar is heelwat woordeboeke, vinnige internet, en sitplek vir 'n paar mense.

As mense virtueel wil aansluit, kan ons dalk iets reël, alhoewel dit dalk makliker gaan wees by 'n volgende geleentheid. Laat weet gerus.

Tyd

Saterdag, 29 Mei 2010

Ons begin 10:00 en hou aan tot so 12:30 of omtrent middagetenstyd. Daarna kan die wat wil sommer bietjie kuier terwyl ons iets ligs eet.

Wat gaan vertaal word?

Voorstelle van programme om te vertaal is welkom. Alhoewel ons eintlik aan omtrent enigiets kan werk wat iemand wil doen, raai ek 'n paar van ons gaan aan hierdie projekte wil werk (party het reeds begin):

Dasher
Xiphos
GNOME se speletjies
gedit

Meeste van hierdie programme loop op Linux en Windows, en 'n paar nog op OSX ook. Daar is reeds gedeeltelike vertalings vir al hierdies om mee te werk.

Verder wil ek graag werk aan die verbetering van die komende GNOME 3, en ek sal graag dat ons kyk na iets wat daartoe bydra.

Categories:

Ontoeganklike vertalings

Mon, 17/05/2010 - 11:27

Ek is al vir 'n geruime tyd geïnteresseerd in toeganklikheid en glo daar is klomp raakpunte tussen toeganklikheid en lokalisering. By voorbeeld: wat help 'n vertaalde program as daar nie 'n skermleser is in die betrokke taal nie? Die onlangse geskryf oor toeganklikheid om die GNOME-planeet het my seker geïnspireer om dinge in Virtaal te verbeter.

Virtaal verlig sekere elemente in vertalings soos XML-etikette en veranderlikes met kleure ter wille van leesbaarheid. Dit is ook maklik om hierdie plaasbare items in te voeg sonder om te tik. Dit kan produktiwiteit aansienlik verhoog. Tot onlangs het ons egter nog die kleure as enkelwaardes in die kode gespesifiseer, wat natuurlik beteken dat dit nie goed gewerk het met inverse temas (ligte teks op donker agtergrond) nie.

Met die vrystelling van Virtaal 0.6 was ek in my noppies oor die verbeteringe wat ons gemaak het. Ons speel nou beter saam met GTK-temas wat maak dat ons beter werk in inverse temas. Verder het ons ook visuele kontras verbeter vir die inverse temas, en het baie goeie terugvoer gekry van 'n gebruiker wat nou Virtaal sonder probleem kan gebruik.

Hier is sommige van die verbeteringe:

  • Die URL en XML-etikette is ligter, om te verseker dat hulle steeds gelees sal kan word.
  • Wanneer die soekfunksie niks kry nie, het dit 'n rooi agtergrond (soortgelyk aan Firefox). Nou is dié agtergrond is donkerder sodat goeie kontras verseker met die soekteks.
  • Die term waarvoor daar 'n voorstel is ("Download") het 'n donker agtergrond.
  • Die plaasbare item met syfers ("0.6.0") het nou 'n donker agtergrond, en die voorgrondkleur is redelik lig.

Die laaste twee was moeilik, want daar moet goeie kontras wees tussen die voorgrond en die agtergrond, maar die verskil met die gewone teks moet ook duidelik wees. Aangesien die gewone teks reeds optimale kontras het, beteken dit dat ons in effek die kontras verlaag.

Dit alles word outomaties gedoen as Virtaal in 'n inverse tema uitvoer. Ek is bly dat hierdie reg werk sonder dat die gebruiker enigiets hoef te soek of op te stel. Dit dateer ook op as die stelseltema verander terwyl Virtaal uitvoer.

Categories:

Deurlopende integrasie vir lokalisering - wat van vals positiewes?

Wed, 12/05/2010 - 11:07

My kollega Dwayne het pas 'n interessante stuk geskryf oor die gebruik van deurlopende integrasie vir die toets van ons produkvertalings. Nou wil ek begin dink aan hoe ons dit kan uitbrei met pofilter.

Een verskil tussen msgfmt en pofilter is dat msgfmt enkele streng toetse het waaraan vertalings moet voldoen. Daarenteen het pofilter 'n klomp kwaliteittoetse waarvan nie almal doodsake is nie. Terwyl die toetse soms verkeerdelik kla oor iets wat fout is, dink ek amper meer aan pofilter as iets soos "lint" — iets wat jou help om die vertalings skoon te maak en te verbeter, maar dis nie alles noodwendig krities belangrik nie (sommige daarvan is natuurlik wel krities belangrik).

Daarom praat ons nou oor hoe om vals positiewes te kan merk sodat pofilter nie in die toekoms daaroor sal kan kla nie (soortgelyk aan hoe mens lint-toetse kan stil maak met kommentaar). 'n Inskrywing in die lyntjies wat met #, begin sou ideaal wees, maar die gettext-programme behou nie enige niestandaard inskrywings daar nie. Dus sal dit waarskynlik in die kommentaar moet wees. Dit het die voordeel dat 'n vertaler maklik dié velde kan redigeer soos kommentaar.

Maar as dit in die kommentaar is, hoe gemaak tydens die opgradering van vertalings? As msgmerge of pot2po 'n eenheid wasig merk (die Engels het verander), dan sal mens tog wel die kwaliteitstoets weer wil doen, maar daar sal nou 'n merker wees wat sê dat dit nié moet gebeur nie. Dit sal ideaal wees as ons 'n verandering in die msgid óf msgstr sal bespeur en eenvoudig die toetse in elk geval uitvoer.

Ek dink daaraan om 'n hutswaarde in te voeg, maar dit sal natuurlik nie so mooi lyk nie, en is nie meer maklik redigeerbaar vir 'n mens nie.

Categories:

Verlopig klaar met lokaliseringsgids vir Amharies

Sat, 20/03/2010 - 09:21

Na my besoek aan Limerick het ek en Solomon 'n proefkopie van die lokaliseringsgids vir Amharies. Dit is spesifiek bedoel as 'n manier om sprekers van Amharies te help om 'n paar van die sake wat spesifiek voorkom in lokalisering in Amharies beter te verstaan en te hanteer. Ons hoop dat dit vertalers sal help om te begin werk met sagtewarelokalisering.

Ons het dit nou uitgestuur aan 'n paar mense vir kommentaar. Laat weet gerus as nog iemand daarna wil kyk en kommentaar lewer. Ons kan dit hopelik binnekort publiseer op die webwerf van die Afrikanetwerk vir Lokalisering.

Categories: